Uit
die Geskiedenis van die Nederduitsch Gereformeerde Kerk Deur
Dr Gerdrie van der Merwe VDM
te Kuruman, Suid-Afrika Storie
een tot dertig Foto’s en webredaksie: Benno Zuiddam

II Stryd en oorwinning
op kerklike terrein (1702-1752)

III SOOS ‘N STAD OP ‘N BERG (1752-1802)
Die veeboere trek al hoe dieper die
binneland in, so bereik die lig van die Evangelie donker Afrika. Die Afrikaner
het ‘n hoë premie gestel op sy godsdiens, die ossewa was figuurlik
gesproke die skip van die veeboer en die Statebybel in die voorkis die kompas.
Die invloed van die Bybel op hulle daaglikse lewe en hulle verbondenheid aan
die Kerk spreek boekdele. Die feit dat hulle in die wildernis kon oorleef en
beskaafd bly, kan toegeskryf word aan die stille krag en invloed van die Woord
van God. Tydens die goewerneurskap van Ryk Tulbagh beleef die Kaap ‘n
bloeitydperk, mense leef goed en die kerk deel in die voorspoed. Hy gee in 1775
verlof dat die kerk ‘n nuwe Psalmboek bekom en is die kerk goedgesind.
Daar heers egter onverskilligheid
op godsdientige gebied en losse sedes is allerdaags. Die jong ds H R van Lier spreek dit met
aangrypende erns aan in sy preke. In 1794 lewer ds M C Vos ‘n roerende preek oor sendingwerk. Staatsbeheer veroorsaak dat in die
eerste 150- jaar aan die Kaap slegs sewe gemeentes gestig word, die laaste twee
gemeentes is Graaff-Reinet in 1792 en Swellendam in 1798.
IV OP DIE VOORPOS MET VOLHARDING (1802-1852)
Die kerklike lewe aan die Kaap word
beëinvloed deur die Engelse besetting (1795-1802) en die Betaafse bewind
(1803-1806). ‘n Uitvloeisel is die samestelling in 1824 van die eerste
Sinode van die Ned Geref Kerk. In die tyd word gemeentes soos Caledon (1811),
George (1813), Uitenhage (1817), Somerset-Wes (1819) en Worcester (1821)
gestig. Die Kerk staan by die gereformeerde leer en Dordtse Kerkorde. In 1822
word die N G Kerk versterk deur Skotse leraars met diepe godsvrug soos ds A
Murray, ds C Fraser, ds, G Morgan en ds H Sutherland. Die tydperk word oorheers
deur kerklike migrasie na die Transgariep, dit bring spanning tussen leraars en
lidmate in die Kaapse Kerk. Na die Groot Trek word die volgende gemeentes in
die Transgariep en Transvaal gestig: Winburg (1841), Smithfield (1848),
Fauresmith (1848), Bloemfontein (1848), Potchefstroom (1842), Rustenburg (1850)
en Pietersburg (1852). Op 13 Januarie 1849 verskyn “De Gereformeerde
Kerkbode in Zuid-Afrika”, ‘n kerkblad wat na 153 jaar steeds verskyn.
Tweehonderd jaar na die volksplanting aan die Kaap, lewer ds Abraham Faure op 6
April 1852 ‘n herdenkingsdiens in die Groote Kerk met Psalm 118 vers 32
as teksgedeelte.

V KERKLIKE UITDAGINGS EN GROEI (1852-1902)
Die Kaapse Sinode vergeet nie sy
lidmate in die vreemde nie, in 1853 word
die Ring van Transgariep betrek. Kerklike verdeeldheid is ‘n
werklikheid in Transvaal, ds Dirk van der Hoff stig die Nederduitse Hervormde
Kerk en ds Dirk Postma die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Op 1 November
1859 open die Ned Geref Kerk ‘n eie Teologiese Seminarium op
Stellenbosch, ‘n teenvoeter vir die liberale rigting met sy verdraaide
Skrifbeskouing. Terselfdertyd word die NG Kerk geseën met ‘n groot
herlewing wat die land met genade oorspoel. ‘n Hofsaak in 1862 verbreek
die strukturele band wat die Transgariep met die Kaapse Kerk het, afsonderlike
sinodes ontstaan in die Oranje-Vrystaat, Transvaal en Natal. Die
Boere-republieke beleef ‘n bloeitydperk met die ontdekking van diamante
en goud, gemeentes word bevoordeel.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is daar 37 gemeentes in
die Vrystaat, 35 gemeentes in Transvaal en 8 gemeentes in Natal. Die Ned Geref
Kerk se lotsgebondenheid met die volk in ‘n krisis het die kerklike lewe
sterk beïnvloed, lidmate is aangemoedig om hulle krag in God en Sy Woord
te soek en te vind.
VI STORMS EN GROOT TYE VRA
GELOOF (1902-1952)
Die Ned Geref Kerk speel na die
Anglo-Boereoorlog ‘n groot rol in die heropbou en genesing van die
Afrikanervolk, die kerk bly intens betrokke by die wel en weë van lidmate.
‘n Geestelike verdieping is waarneembaar met nuwe belangstelling in
sending. In 1910 word “De
Kerkbode” die blad van die hele kerk, na die amalgamasie van sinodale
kerkblaaie. Die Vrystaatse Kerk beleef intense spanning tydens die Rebellie
(1914-1915), soos elders tydens die Eerste Wêreldoorlog. Die Helpmekaar
fonds word gestig om lidmate by te staan. Die Kerk is as volkskerk gesien, wat
dit kragtens sy belydenis nie wou wees nie. Op kerklike gebied is daar die Du
Plessis-saak (1928-1935), ‘n kerksaak wat in die hof tot stilstand kners.
Die depressie van die dertigerjare eis sy tol en al hoe meer lidmate
verstedelik, terwyl die Tweede Wêreldoorlog ook spanning veroorsaak. Op
27 Augustus 1933 word die eerste Bybel in Afrikaanse in gebruik geneem. Drie
honderd jaar na die volksplanting, lewer dr A J van der Merwe ‘n
herdenkingsdiens in die Groote Kerk in Kaapstad met Psalm 16:6 as teksvers.
VII ONS BELEEF ‘N
GENADIG-DINAMIES TYDVAK
(1952-2002)
Die Rassevraagstuk in Suid-Afrika kom
sterk as teologiese vraagstuk na vore, in die tyd word apartheid ‘n
geloofsaak. Reeds in 1945 rig die Ned Geref Kerk ‘n dringende versoek tot
die regering om wetgewing in te stel wat gemengde huwelike verbied. Omsteeks
1948 word die beleid apartheid teologies en Skriftuurlik gefundeer, terwyl die
besluite van die Cottesloe beraad in 1960 van die tafel gevee word. Oor die
jare was daar leraars wat hieroor verskil het, destyds ‘n stem in die
groot woestyn. Op 16 Oktober 1962 vind die eerste Algemene Sinode van die Ned
Geref Kerk in Kaapstad plaas, wat voortaan die breë beleid van die kerk
bepaal. Verslae in 1974 soos die beleidstuk “Ras, volk en nasie”,
en in 1986 “Kerk en Samelewing”, bring helderheid maar ook roering
en beroering op die kerklike akker. Vanaf 25 Maart 1981 word “Die
Kerkbode” in tydskrif-formaat uitgegee, die kerkmense se eie koerant. Die
kerk voltooi sy reis met apartheid, waarna ‘n kerkskeuring volg met die
stigting in 1987 van die Afrikaanse Protestantse Kerk. In die herfs van 1994
breek ‘n nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika aan, waar die Ned
Geref Kerk op voetsoolvlak met sy eeu-oue tradisie, gereformeerde belydenis en
lewensbeskouings, deur die Drie-enige God geroep is om ‘n onmiskenbare
rol te speel. Die Ned Geref Kerk openbaar ‘n verbasende soepelheid aan
die begin van die 21 ste eeu, die rigiede wyse waarop dinge soms hanteer word,
mag ons nie verwyder van besluite van meerdere kerklike vergaderings nie. Prof
Flip van der Watt skryf oor die geskiedenis van die kerk: “Die
Nederduitse Gerformeerde Kerk is die kerk vir die Afrikaner, maar nie van
die Afrikaner alleen nie”.

VIII Kerklike vestiging aan die Kaap van Storms
Kaap die Goeie Hoop – 6 April
1652.
Kommandeur Jan van Riebeeck en sy geselskap
het gister met drie vaartuie in die Kaap van Storms anker gegooi en betree
vandag donker Afrika. Met ‘n treffende gebed vestig hy die gereformeerde
geloof en word dit Kaap die Goeie Hoop. Op die Drommedaris is die jong Willem
Barentsz Wylant van Nederland, die
eerste sieketrooster en geestelike arbeider aan die Kaap om die koloniste
geestelik te versorg. Hy hou die eerste leesdiens op Sondag 14 April 1652 op
die skip. Die volgende dertien jaar funksioneer die kerklike lewe aan die Kaap
sonder ‘n geordende predikant.
Die Kompanje is van mening dat
leraars te duur is, ook omdat leraars skaars is en die bevolking by die fort te
klein om ‘n eie predikantspos te regverdig. Die Kompanje maak van
sieketroosters gebruik, dit is goedkoop arbeid en ‘n kerklike- en erkende
hulpdiens wat met groot seën die voorpos samelewing dien. As eerste
fakkeldraers van die Blye Evangelie en opvoeding aan die Kaap, word met erns
gewaak teen onsuiwere en afbrekende leerbeskouings en die geeselike arbeid is
onder streng toesig.
IX Eerste Gereformeerde Erediens en Nagmaal
Kaap die Goeie Hoop - 12 Mei 1652.
Die eerste volwaardige Gereformeerde
erediens en Nagmaal is vandag aan die Kaap deur ds Johannes Bakker aan lidmate
in die fort bedien, ‘n besoekende leraar op een van die Kompanje se
skepe. Na sy vertrek sal die sieketrooster Willem Wyland weer leesdienste
waarneem, maar mag nie ‘n eie preek lewer nie. Jan van Riebeeck het die
goeie Wyland vermaan om sy oë stipter op die preekboek te hou en nie van
sy manuskrip af te wyk nie. ‘n Versoek dat hy sy preke mag voordra of uit
die kop leer omdat die lees daarvan sy oë vermoei, is summier verwerp en
hy mag die preke slegs woordeliks voorlees. Aan die Kaap mag net geordende
leraars die Woord en sakramente bedien.
X Swaar straf vir kerklike stokkies draai
Kaap die Goeie Hoop – 25 Maart
1653.
Goewerneur Jan van Riebeeck sorg dat
die godsdienstige belange van die nedersetting aan die Kaap nie verwaarloos
word nie, hyself gaan by elke ete voor in gebed, ook met die sing van twee of
meer liedere. Op sy aanbeveling word slegs een erediens per Sondag gehou, met
die verstandhouding dat elke amptenaar dit bywoon. Swaar strawwe tree in
werking as manne nie die dienste bywoon nie. Indien ‘n persoon die eerste
keer wegbly, ontvang hy daardie week geen wyn nie. By die tweede afwesigheid
verbeur hy ‘n volle maand se salaris. As die amptenaar ‘n derde
keer by die kerk stokkies draai, moet hy ‘n hele jaar lank sonder salaris
“in de ketting” werk. ‘n Paar manne het reeds ondervind wat
hierdie straf beteken, nadat hulle drie keer van die sieketrooster se leesdiens
weggebly het. So word ‘n 100 %
bywoningsyfer verseker.
XI Pastorie-baba ‘n jaar lank ongedoop
Kaap die Goeie Hoop – 20
Augustus 1653.
Die jaaroue pastorieseun Bernert Willemze Wyland is vandag deur
ds F Fronten in die fort gedoop, die eerste blanke kindjie wat op 6 Junie 1652
aan die Kaap gebore is. Sy Pa die sieketrooster Willem Wijland, is nie ‘n
geordende leraar nie en moes ‘n jaar lank wag vir ‘n besoekende
leraar om die doop te bedien. Die jongeling ontvang ‘n maandelikse
toelaag van agt gulden, want hy is die eerste gebore blanke aan die Kaap.
XII
Geestelike leier oor drankmisbruik geskors
Kaap die Goeie Hoop – 15
Desember 1664.
Die derde sieketrooster aan die Kaap,
Ernestus Back word weens ‘n drankprobleem geskors. Hierdie krankebesoeker
word ‘n drankbesoeker, Back en Bacchus is na die Kompanje se siening te
groot vriende. Hy is telkens deur kommandeur Wagenaer vermaan en gestraf, maar
dit verhard hom net en hy gee nie sy samewerking nie. Die verskyning op 15
Desember 1664 van ‘n komeet wat aan die Kaapse hemelruim hang, is die
teken aan die kommandeur dat van hierdie Jona ontslae geraak moet word. So
eindig die stormagtige waters waarin sieketrooster Back hom bevind en na sy
rehabilitasie in 1669 word hy na Japan gestuur.

XIII
Kerklike bid- en dankdag
Kaap die Goeie Hoop – 6 April
1654.
Die owerheid aan die Kaap besluit op
aanbeveling van kommandeur Jan van Riebeeck dat 6 April voortaan ‘n
godsdienstige feesdag sal wees. Die dag sal tot eer van God aan die Kaap as
‘n bid-en dankdag herdenk word. Dit word ‘n vaste instelling en die
kommandeur beklemtoon die vestiging aan die Kaap nie net ‘n
verversingspos nie, maar as ‘n volksplanting. Weens die probleme met die
Hottentotte roep Jan van Riebeeck elke Woensdagmiddag ‘n biduur byeen by
die fort, ‘n geleentheid om die hulp van die Here God af te smeek in die
krisistyd.
XIV
Selfstandige Gemeente met eie leraar aan die Kaap
Kaap die Goeie Hoop – 23
Augustus 1665
Daar heers groot opgewondenheid toe
ds Joan van Arckel in Tafelbaai voet aan wal sit, die eerste vaste predikant
aan die Kaap. Hy het op koste van die V.O.C. studeer en preek op Sondag 23
Augustus 1665 die eerste keer in die groot saal van die fort, waar hy agt
kindertjies doop. Die eredienste in die sewentiende eeu het ongeveer drie uur
lank aangehou. Met sy koms en
eerste preek was dit ook die geboorte van ‘n eie selfstandige gemeente
aan Kaap die Goeie Hoop, bestaande uit 500 tot 600 blankes. In sy netjiese
handskrif lê hy die eerste register van resolusies, doop- trou- en
lidmaatslyste in die gemeente aan. Hy teken ook aan dat die eerste kerkraad die
belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerk onderskrywe “voor goed en met
het Woord overeenstaande”. Hy begin dadelik met huisbesoek en is ‘n
waardige bedienaar van die Woord met deernis vir mense in nood.

XV
Jong leraar sterf
Kaap die Goeie Hoop – 14
Januarie 1666
Ds Joan van Arckel sterf skielik op
12 Januarie 1666, weens ‘n aanval van koors in die ouderdom van
ses-en-twintig jaar. Hy is gister in die aanskemering op sy eie versoek in die
timmermansloods van die Kasteel begrawe, waar hy die laaste tyd eredienste
gehou het. Dit lyk nie soos ‘n kerkplek nie, aan die mure hang leeu- en
luiperdvelle en bokant die deure en vensters gepoleerde horings en groter
boksoorte. Op 2 Januarie 1666 neem die jong leraar nog deel aan die
hoeksteenlegging van die kasteel, waarna hy siek word en sterf. Die Politieke
Raad getuig van hom as “onsen goeden Leeraer, rewchten voorganger en
leyder tot all Christelycke deuchden”.
XVI
Kaapse predikant vra beter voordele
Kaap die Goeie Hoop – 7 April
1672
Daar word verneem dat die plaaslike
leraar ds Adrianus de Voogt gevra het vir beter diensvoorwaardes, net soos sy
kollegas in Batavia. Daar kry predikant behalwe ‘n salaris van 100 gulden
per maand, ook 100 kan wyn, 80 lb botter, 12 kan olie, 12 kan asyn en 120 pond
rys. Aangesien die Politieke raad die salaris en voordele betaal, word die saak
op die volgende vergadering bespreek. Aanvanklik was ds De Voogt baie ontevrede
met die huisvesting in die Fort, waarna kommissaris Matthijs van den Broucke
gereel het vir ‘n gemakliker pastorie om in te woon.
XVII
Eerste eie kerkgebou ingewy
Kaap die Goeie Hoop - 7 Januarie 1704
Gister is die eerste volwaardige
kerkgebou in die Kaapse gemeente ingewy, ‘n groot oomblik in die jong
gemeente se geskiedenis. Vanaf 1666 tot 1677 is eredienste in die loods van die
fort gehou en tot in 1704 in die “Kat” van die kasteel. Die nuwe
kerkgebou is gou gevul met amptenare en burgers wat volgens rang en stand hulle
plekke ingeneem het. Met die aankoms van goewerneur Willem Adriaan van der Stel
het almal soos gebruiklik opgestaan uit respek, waarna ds Petrus Kalden die
kansel bestyg en ‘n wydingsrede oor Eksodus 20 vers 24 lewer. Die
kerkgebou het 30,000 gulde gekos, ‘n pragstuk vir sy tyd. [Die toring van
die 1704 is vandag deel van die Groote Kerk in Kaapstad, ‘n
kerkhistoriese baken en erfenis uit die Kompanjetyd].
XVIII
Broedertwis tussen leraar
Kaap die Goeie Hoop – 19 April
1708
Die spanning tussen twee Kaapse
predikante, ds Petrus Kalden en ds Engelbertus Franciscus le Boucq, loop tydens
die bewind van goewerneur W A van der Stel baie hoog. Albei leraars raak intens
betrokke in die spanning tussen goewerneur en koloniste, met gemeentelede wat
in twee kampe verdeel is. So word strydbyle tussen die leraars skerp geslyp. Ds
Le Boucq gaan uit sy pad om ds Kalden te beswadder en gebrandmerk as
strydlustige kollega en bose engel. Die saak draai in die hof en ds Le Boucq
word skuldig bevind en moet die regsgeding betaal, asook honderd Kaapse
ryksdaaalders boete vir aangewending van behoeftige mense aan die Kaap.
XIX
Leraar verloor werk na politieke preek
Kaap die Goeie Hoop – 29
Augustus 1708
‘n Goot opskudding het gister
in Kaapstad geheers toe ds E F le Boucq die kansel misbruik het vir politieke
redes. Hy het gepreek met Spreuke 29:1 as teksvers, waarin hy teen die vorige
politieke bewind uitgevaar het. Hy het teenoor die Van der Stel groep gestaan
en Adam Tas van Stellenbosch was ook teenwoordig. Aan die einde van die preek
maak hy bekend dat twee kerkraadslede geskors is, sonder dat die kerkraad dit
weet. Die preek bring groot opskudding, hy word belet om te preek en sy salaris word ontneem. Die
dominee is kwaad, spring op sy perd met ‘n sabel en pistole en jaag deur
die platteland, dit bring groot opskudding en hiermee slaan hy die laaste
spyker in sy Kaapse doodskis.

XX
Franse predikant wil terug
Kaap die Goeie Hoop – 27
November 1700
Ds Pierre Simond wat sedert 1688
predikant onder die Hugenote aan die Kaap is, is begerig om met sy gesin die
eerste retoervloot te neem na Holland. Sy aansoek is deur die Politieke raad
afgekeur, terwyl hy halsoorkop sy besittings verkoop en ook ‘n
afskeidspreek gelewer het.
XXI
Leraar pleeg selfmoord
Kaap die Goeie Hoop - 26 Junie 1704
Die gemeenskap van hierdie klein
dorpie aan die Eersterivier lei erg aan skok omdat hulle leraar ds Herculus van
Loon gister selfmoord gepleeg het.
In 1701 het die leraar, met soos sy kollega aan die Kaap ds Petrus
Kalden, ook twee plase van die staat ontvang in die Joostenberg omgewing. Hy
was van sy plaas onderweg na Stellenbosch, toe hy homself om die lewe bring,
waarna sy weduwee goedgunstig ‘n pensioen van die staat ontvang. Die
bekende Peter Kolbe skryf dat hy met “een pennemes den hals afgesneden,
zonder dat iemand ooyt heeft geweten, waar door hy tot die wanhoop vervallen
is”. Die selfmoord van hulle leraar is ‘n skokkende gebeurtenis vir
die Stellenbosse gemeente, maar die koms van ‘n nuwe leraar ds Henricus
Beck kalmeer gemoedere.
XXII
Kerk en drosdy op Stellenbosch brand af
Kaap die Goeie Hoop – 18
Desember 1710
Die goewerneur het tyding uit
Stellenbosch ontvang dat ‘n ontsettende brand die kerkgebou, drosdy en
die Kompanje se stalle in puin gelê het. ‘n Sterk suidooster het
gewaai en landdros Samuel M de Meurs het by die drostdy ‘n slaaf opdrag
gegee om om ‘n tabakkonfoor vir hom te gaan haal. ‘n Kooltjie het
uit die konfoor in die grasdak van die drostdy gewaai en binne twee uur was die
meeste huise in Stellenbosch asook die kerkgebou en drostdy in ligte laaie. Die
sterk en by tye stormsterk suidooster het die vonke van die een gebou na die
ander oorgewaai en die inwoners was magteloos en kon nie die verwoesting keer
nie. In 1708 is daar grootskaalse herstelwerk aan die drostdy gedoen en in
hierdie kommervrye oorlogstye sal dit nie maklik wees om geld vir die bou van
‘n nuwe drostdy te bekom nie.
XXIII
Lotery geld vir Stellenbosch se kerkgebou
Kaap die Goeie Hoop - 3 Maart 1722
Die nuwe kerkgebou op Stellenbosch is
byna voltooi, ‘n groot gebeurtenis sedert die vorige kerk ‘n dekade
gelede afgebrand en nooit weer herbou is nie. Toe daar nie genoeg fondse in die
kerkkas is nie, besluit die kerkraad om ‘n lotery te hou om geld te
bekom, wat uitloop op ‘n groot fiasko. Die Politieke Raad gee goedkeuring
dat 8 000 lootjies teen 3 gulde elke verkoop mag word. Groot pryse word
uigeloof en sou in die Kaap oorhandig word. Spoedig bring hierdie ingrype teen
die gereformeerde leer groot probleme vir die kerkraad, die een ellende na die
ander tref nie gemeente en die hele skema is ‘n volslae mislukking.

XXIV
Op die preekstoel met wit handskoene
Kaap die Goeie Hoop – 7
Desember 1732
Ds Salomon van Echten is gister in
die gemeente Stellenbosch bevestig, iemand uit ‘n vooraanstaande familie
en baie gesteld om sy afkoms. Hy is
op eie eer gesteld en wou op Stellenbosch dieselfde soort lewe lei as die
vooraanstaande mense in Holland. Hy het die kansel bestyg as imposante figuur
met gepoeierde hare en wit handskoene, sy preke is sorgvuldig en sistematies
voorberei, verstaanbaar en gelewer met ‘n aangename tenoorklank. Hy was
baie beleefd en ‘n toonbeeld van netheid en ordelikheid, tog skemer daar
by tye ‘n oormatige hoë dunk van eiewaarde deur.
XXV Predikant kla oor
hoë grondbelasting
Ds Johannes Wilhelmus Hertzogenraedt
van die gemeente Drakenstein (Paarl) is sterk deur die goewerneur en die
Politieke Raad berispe en vermaan om hom nie met politiek te bemoei nie. Hy het
namens die kerkrade van Stellenbosch en Drakenstein protes aangeteken teen verhoogste grondbelasting aan die Kaap.
In ‘n onderhoud het die dominee gesê dat hy die ernstige
bestraffing nie verdien nie, want hy tree in belang van sy gemeentelede op. Die
verdubbelling van die grondbelasting van 12 tot 24 riksdaalders sal die boere
wat reeds swaar kry nog net armer maak. Hulle kan skaars goeie klere bekostig
om aan te trek kerk toe. Die Diakonie sal ook minder geld hê om aan die
armes te gee en dankofferbydraes gaan verminder omdat geld skaarser word. Die
leraar voel dit is sy plig en roeping om oor sy kudde se stoflike welvaart te
waak.
XXVI Kerklike uitbreiding na
Land van Waveren
Met Baron van van Imhoff se
besoek aan die Kaap is hy diep bekommerd oor die veerboere in die
uitgestrekte land wat nie gereeld kerkdienste kan bywoon nie. Die naaste gemeentes
is Stellenbosch en Drakenstein, meer as drie dagreise die binneland in.
Gesprekke met di. Francois le Sueur (Kaapstad) en Willem van Gendt
(Stellenbosch) spoor hom aan om aan die Politieke Raad aan te beveel dat
gemeentes in die omgewing van Roodezand-Waveren (Tulbagh) en Swartland
(Malmesbury) gestig word. Hierdeur word onderwys ook bevorder, terwyl die
inwoners self moes betaal vir die oprigting van eie kerk- en skoolgeboue.
XXVII
Eerste kerkorrel aan die Kaap
Kaap die Goeie Hoop – 15
November 1737
Die kerkgebou van 1704 is ingewy
sonder ‘n orrel, maar die gemeente kry eers in 1737 ‘n eerste orrel
nadat gemeentelede dekades lank daarom vra. Die dogter van goewerneur Jan de la
Fontaine het musiek aan die Kaap bevorder en laat bou ‘n eie orrel van tien
of twaalf registers vir haar eie gebruik. Met hulle vertrek wou die Kaapse
kerkraad dit as geskenk hê, maar hulle moes ten duurste daarvoor betaal.
Die eerste orrelis was Paul Kraker, ‘n soldaat in diens van die Kompanje.
Die orreltjie se asem was maar kort en dit is in 1753 vervang met ‘n
beter instrument vervang.

XXVIII
Herdenking van volksplanting in 1752
Kaap die Goeie Hoop – 8 April
1752
Ds Petrus van der Spuy, die eerste
Suid-Afrikaans gebore leraar in die land, lewer vanoggend ‘n besielende
dankdiens by geleentheid van die eerste eeufeesviering van die volksplanting
aan die Kaap in ‘n stampvol kerkgebou. Met Psalm 147:12-14 as teksvers
het die leraar God geloof en gedank dat Hy die grendels van hulle poorte sterk
gemaak en hulle kinders geseën en die grondgebied geseën het met
vrede. Tydens die erediens het donker wolke oor Tafelbaai gehang maar die
middag het die lug oopgetrek en is die feesvreugde verhoog met die afvuur van
kanonskote by die kasteel en op Engelse, Franse en Deense skepe in die hawe.
Goewerneur Ryk Tulbagh het die burgers en amptenare die aand in die Kasteel
onthaal, ‘n feesviering wat tot ounag toe duur..
XXIX
Sondagarbeid verbied
Kaap die Goeie Hoop – 25 Maart
1765
Die Politieke Raad het besluit dat
slawe op Sondae geen kos of ander ware in die strate mag verkoop nie, ook mag
niemand aan die Kaap messel- bou- en of timmerwerk op die rusdag doen nie.
Oortreders wat gevang word weens arbeid op Sondagarbeid moet ‘n boete van
50 Rds betaal.
XXX Nuwe
Psalmberyming ingebruik geneem
Kaap die Goeie Hoop - 22 Mei 1775
In 1773 verskyn ‘n nuwe
Psalmberyming in Nederland, wat ook in die Kaapse Kerk gebruik word. Die
kerkraad bestel vyftig eksemplare vir gemeentelike gebruik, wat permanent in
die vaste banke van die kerkgebou bly. Die nuwe Pslamboek word op Sondag 21 Mei
1775 die eerste keer amptelik ingebruik geneem.