Uit
die Geskiedenis van die Nederduitsch Gereformeerde Kerk Deur Dr Gerdrie van der Merwe VDM te Kuruman, Suid-Afrika Storie eenendertig tot
vyfentagtig Foto’s en webredaksie: Benno Zuiddam
XXI Leraar trou met een van sy dopelinge
Kaap die Goeie Hoop – 20
Januarie 1783.
Ds Petrus van der Spuy is op
sestigjarige leeftyd in die kerkgebou op Stellenbosch met ‘n jonge dogter
getroud wat hy as kindjie gedoop het. Toe hy haar op 21 Julie 1748 in die
Kaapse gemeente doop, het hy skertsend
aan haar vader gesê dat hy die klein dogtertjie vir hom as vrou moes grootmaak.
In 1753 is hy na die gemeente Drakenstein in die Paarl verplaas, waar hy na
veel spanning en stryd, maar met ‘n verdieping in sy geestelike lewe, as
oujongkêrel in 1781 geforseer word om sy emeritaat te aanvaar. Hy verhuis na
Stellenbosch waar hy hy verlief raak op die jong Maria Elizabeth Adleda met wie
hy op 19 Januarie 1883 trou. Dit is was besondere gelukkige huwelik en vier
kinders, wat groot vreugde aan die ou leraar bring. Maar sy sterf skielik in
1791 en hy oorleef haar agtien jaar lank en sterf op 4 Maart 1809. Ds Petrus
van der Spuy word agter die Moederkerk op Stellenbosch begrawe waar sy graf nog
tot vandag toe besigtig kan word.
XXXII Dominee kwaad oor straatnaam
Kaap die Goeie Hoop – 31
Desember 1790.
Die bejaarde ds Johannes
Petrus Serrurier het heftig beswaar gemaak teen die naamsverandering van die
straat in Kaapstad waarin hy woon. ‘n Kommissie van die hooggeregshof wat aangesel
is om name aan nuwe strate en pleine te gee, besluit om die bestaande
Bergstraat na Venusstraat te verdoop en die naambord van die straat bokant die
dominee se deur vas te spyker. Vriende vermoed dat dit in opdrag van die
goewerneur Jacob van de Graaff geskied het, want dit is algemeen bekend dat hy
baie kwaad was oor ‘n preek wat ds Serrurier oor Isébel gelewer het. Hy is vas
ooruig dat die dominee in daardie preek op sy vrou geskimp het.
XXXIII Predikant weens dwaalleer verban
Kaap die Goeie Hoop – 27
Febraurie 1751
Ds H H van der Veen is gister
deur die polisie op ‘n verbygaande boot gedwing weens die dwaalleer wat hy aan
die Kaap verkondig. Hy kry aanvanklik verlof om aan die Kaap weens siekte aan
te sterk, later blyk dit ‘n verskoning te wees proselietmakery. Spoedig word hy
gebrandmerk as ‘n dweepsieke, verdraai die Woord word die kansel in Kaapstad
belet. Toe sy sondes aan die die Kaap
hom inhaal, is hy na Malmesbury om soos hyself getuig boerekos te weet om weer
sterk te word. Oral beeïnvloed hy lidmate en saai twyfel oor aanvaarde
godsdienstige sake en gebruike. Goewerneur Ryk Tulbagh sorg dat hy uit die Kaap
verwyder word, ‘n bemoeisieke predikant wat kerkmense meer ontstig as stig.
XXXIV Leraar met sagte stem
Kaap die Goeie Hoop – 25 September
1786
Ds Meent Borcherds het gister
sy afskeidspreek in Kaapstad gehou na ‘n kort dienstermyn en lewer op 22
Oktober 1786 sy intreepreek op Stellenbosch. Hy is iemand met ‘n swak gestel en
die groot kerkgebou in Kaapstad is volgens hom te groot vir sy sagte stem. Na
na die koms van sy kollega ds H R van Lier, word hy op eie versoek na die
gemeente Stellenbosch verskuif, want die kerkgebou daar is baie kleiner waar hy
met minder inspanning sy preke kan lewer. Na veertig jaar tree hy in 1826 in
die Eikestad af, waar hy in 1832 in sy huis La Gratitude sterf en op
Stellenbosch begrawe word.
XXXV Twis oor ouderling se verkiesing
Kaap die Goeie Hoop – 2
Desember 1771
In die gemeente Drankenstein
is daar groot onenigheid na die verkiesing van heemraad T A Theron as ouderling
van die gemeente. Die eens bloeiende gemeente word deur twis en tweedrag byna
verwoes, meer as die helfde van die gemeente teken ‘n protesskrif. T A Theron
is vir sommige ‘n omtrede figuur, ondermeer omdat hy in rusie lewe met sy bure,
aan ander se watervore en damme peuter om water te steel en sy skoonmoeder sleg
behandel. Die besadige ds Petrus van der Spuy kom ook in die spervuur en word
later die middelpunt van die geskil en moet later die gemeente Drakenstein
verlaat. Eers met die koms van ds R N Aling in 1784 word die gemoedere
geklameer en die gemeente weer in eensgesindheid saamgesnoer.
XXXVI Predikant sak op preekstoel inmekaar
Kaap die Goeie Hoop – 14
Julie 1792
Ds Helperus Ritzema van Lier het gister op die
kansel van die Groote Kerk in Kaapstad inmekaar gesak. Alhoewel hy nooit ‘n
gesonde man was nie, is sy toestand verlede jaar vererger toe hy aan
bloedspuwing begin lei het. Hy is een van die geleerdste predikante aan die
Kaap en is ‘n bekwame lid van die Genootskap van Kuns en Wetenskap van Batavia.
Hy studeer snags tot laat en werk bedags van vroeg tot laat. Gemeentelede is
van mening dat hierdie leraar te veel hooi op sy vurk het en sal moet
afskaal, maar almal weet sy ywer en
entoesiasme ken geen perke nie. Hy is ‘n uitstaande prediker wat korter as
ander leraars preek en meer tyd aan huis- en siekebesoek bestee. Hy sterf op 21
Maart 1793 slegs enkele weke na die aanvaarding van sy emeritaat weens swak
gesondheid.
XXXVII Pleitbesorger vir sending
Kaap die Goeie Hoop - 9 Maart 1794
Ds Michiel Christiaan Vos is
gister bevestig as leraar in die gemeente Roodezand (Tulbagh) in die Land van
Waveren. Hierdie tingerige jong leraar lewer sy intreepreek oor Markus 16:15 en
laat gemeentelede met verbasing regop sit toe hy ‘n getuienis lewer oor sy
sendingroeping en begeerte uitspreek om hulle slawe geestelik te bearbei. Hy is
‘n welsprekende leraar en lê ‘n unieke sendingaksent in prediking. Ds Vos
beskou huisbesoek en die meeleef met lidmate op voetsoolvlak as van groot
belang. Sy gemeentebediening word gekenmerk deur herlewing en geestelike groei
na binne en buite.
XXXVIII Diakonale hulpverlening
Die diakonie het besluit om
die 101-jarige stamvader Otto Ernst van Graan en sy vrou finansieel by te staan
tot met sy dood vier jaar later. Benewens sy doofheid waaraan die kerkraad niks
kon doen nie, help hulle die gesin met klere, komberse, kussings en skoene.
Die kerkraad het ongehoorsame
gemeentelede ernstig vermaan en as mooipraat nie help nie is die burgerlike
owerheid se hulp ingeroep. Toe die sestienjarige Johanna nie wou hoor nie
besluit die kerkraad van Kaapstad om haar voet met ‘n ketting aan ‘n blok vas
te sluit sodat sy kan hoor en die weer van die huis wegloop nie. As straf moes
sondaars onder toesig werk en is soms na Robbeneiland gestuur om oor sondes na
te dink. Indien dit nie suksesvol is nie word hulle met geweld op verbygaande
kompanjieskepe na Batavia geplaas.
XL Blitsromanse van leraar
Kaap die Goeie Hoop – 31 Mei
1785
Die jong ds Meent Borcherds
raak kort na sy aankoms as nuwe leraar van Kaapstad verlief op Aletta Jacoba de
Wit, ‘n jong dogter van die Kaap. Hy is die dag na sy verjaardsdag op 4
September 1785 met haar getroud en die egpaar word kort hierna na Stellenbosch
verplaas waar hy later ‘n eie huis in Dorpstraat bou. Hy noem dit La Gratitude
en laat op die voorgewel die alsiende oog van God aangebring. Vier jaar na sy
aftrede sterf sy geliefde vrou en hy
twee jaar later in 1832.
XLI Ou begrafnisgebruike
Kaap die Goeie Hoop - 16 Oktober 1797
Die aantal begrafnisse, wat
volgens ‘n ou Hollandse instelling saans met kerslig plaasvind, neem aan die
Kaap so toe dat die kerkraad dit op ‘n onlangse vergadering verbied uit vrees
dat die kerkgebou aan die brand kan raak. Dit Britse bevelvoerder, generaal
Dundas se hulp is ingeroep om te help met die toepassing van die besluit van
die kerkraad. Dit was gebruiklik dat slegs mans na begrafnisse genooi is, want
die aansien van die agtergeblewe familie is verhoog deur die groot hoeveelheid
roubeklaers wat huilend agter die stoet beweeg. Vanwee ‘n ou bygeloof dat die
twee wat heelagter stap, die volgende sou wees om te sterf, het die mense
kort-kort plekke omgeruil.
XLII Leraar se liefde vir die natuur
Stellenbosch – 1802
Ds Meent Borchards het
onlangs ‘n gedig gepubliseer met die titel: “De maan, een leergedigt”. Hierdie
leraar het ‘n besondere liefde en aanvoeling vir die natuur en sterrekunde, ook
vir letterkunde, geskiedenis en oudheidkunde. As vader het hy gewoonlik met
sonsopkoms gesprekke met sy seun, om aan
hom die wondere van die natuur deur God geskep op die hart te druk.
XLIII Kragtige Kaapse prediker
Die bekende ds Jan Petrus Serrurier het pas sy emeritaat
aanvaar na ‘n dienstyd van 44 jaar in Kaapstad. Hiermee verloor die kolonie een
van sy bekendste en gewildste leraars, ‘n kragtige prediker wat die Woord op ‘n
eerlike en dinamiese wyse aanbied. Die geheim van sy prediking le in sy
kragtige persoonlikheid en die vermoe om die gesproke woord in te span om sy
gehoor mee te voer. As welsprekende redenaar gee hy waardigheid aan sy amp en as kenner van die Bybel is sy
uitleg korrek en sielsverkwikkend. Ds Serrurier was by uitnemendheid ‘n gesogte
geleentheidsprediker. In sy dienstyd word die kerkgebou verander en die
historiese Anton Anreith kansel in 1789 ingewy, vanwaar hierdie groot
kanselredenaar die Woord van God met waardigheid en geloofsmoed verkondig.
Gisteraand tussen tien- en
elfuur het ‘n hewige aardbewing Kaapstad en omstreke geskud, inwoners het dit
beskryf as ‘n skrikwekkende rommel geluid asof honderde perdewaens in volle
galop in die straat hardloop. Die aarde het geskud en mense het weens vrees uit
hulle huise gestorm, selfs op skepe in die hawe mense uit hulle hangmatte
geslinger. Selfs die onverskilliges het na buite gehardloop en hard geskree.
Bid vir ons, bid vir ons. Die meeste mense het bidure bygewoon, daar was geen
onderskeid tussen ouderdom, stand of kleur nie. Almal het die aangesig van die
Here gesoek. Mense het die eerste paar nagte in tente is op die parade geslaap
want hulle was te bang om na hulle huise terug te keer. Die eerste Sondag na
die aardbewing was die Groote Kerk stampvol, die leraars het die situasie benut
om die Woord van God te verkondig en
mense het ‘n geestelike verdieping ondergaan.
Verskeie jong getroudes het met ‘n skok besef dat hulle
huwelike ongeldig is omdat die berugte Anglikaanse leraar Rev Laurence Halloran
onbevoeg is om as huweliksbevestiger op te tree. Hy was sedert 1807 ‘n kapelaan
aan die Kaap en was ‘n gewide en kragtige prediker, maar het Sondae soms mense
van die kansel af aangeval wat in die week met hom verskil het. Toe hy met die
Kaapse koloniale sekretaris Henry Alexander bots, preek hy oor die teks:
"Alexander die kopersmid het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom
vergeld vir al sy werke”. (2 Tim.4:14). Hy word aangespreek en rig verskeie
naamlose briewe aan luitenant-goewerneur George Grey, wat hom na Simonstad. By
nadere ondersoek blyk dit dat hy nooit ‘n predikant was nie, want sy
toelatingsdokument tot die evangliebediening is vervals. Hy keer terug na
Engeland en gaan voort met sy skelmstreke en verkry selfs op ‘n onregverdige
manier ‘n doktorsgraad in Teologie aan die Universiteit van Aberdeen. Hy dien
later gevangenisstraf in Niew-Suid-Wallis uit en is steeds nie genees van sy
jakkalsstreke nie.
XLVI Perdekarre
raas met kerkdienste
Drakenstein – 15 Oktober 1805
Aangesien die kerkgebou van die gemeente Drakenstein in
die Paarl langs die hoofweg na die binneland le word eredienste soms deur
geraas en perdekarre ontstig. ‘n Groot probleem is dat mense tydens eredienste
in vermaan om sulke onstigtelike gedrag
te keer en om hulle buite te hou tot na die uitspreek van die seenbede. Hy moet
ook rytuie stop en verbied om tydens eredienste heen en weer verby die
Strooidakkerk te ry.
XLVII Grafkelder
verbied
Drakenstein – 14 Februarie 1807
Die kerkraad van die Strooidakkerk in die Paarl keur ‘n
versoek van Hendrik de Leeuw af wat ‘n kelder oor die graf van sy kind wil bou,
dit sou te ooglopend wees. Hy word versoek om te volstaan met ‘n geringe steen
of gedenkteken. Eienaardig genoeg word die eerste grafkelder kort daarna
toegelaat, maar die familie moes vir drie grafte betaal. Later word verskeie
grafkelders rondom die historiese kerkgebou opgerig, tot vandag toe bakens uit
ons kerklike- en kulturele verlede.
XLVIII ‘n Dienende
Martha
Kaapstad - 1
Oktober 1810
Die vroom Matilda Smith het onlangs ‘n
“Vrouen-Genootskap” vir hulpbetoon aan noodlydendes in Kaapstad gestig. Haar
liefde vir die Meester en verterende belangstelling in sendingwerk en armsorg,
sorg dat hierdie merkwaardige vrou met verskeidenheid talente en gawes een van
die bekendste en bemindste figure van haar tyd word.
XLIX Wynkelder
word kerkgebou
Swartberg (Caledon) – 20 Mei 1811
Die jong ds M C Vos begin sy geestelike arbeid aan die
Swartberg, ook genoem Warmbad omdat ‘n warmbron daar ontspring. Daar is geen
pastorie en kerkgebou nie, daarom neem die leraar sy intrek in ‘n boerewoning
vanwaar hy die gemeente opbou. Hy verander die wynkelder in ‘n plek van
samekoms vir die gemeente, wat selde deur minder as 200 gemeentelede bygewoon
word. Onder sy leiding word in 1813 ‘n eie pastorie en kerkgebou ingewy en
verander die dorp se naam na Caledon.
L Afskeid weens
ouderdom en siekte
Swartberg (Caledon) – 2 Augustus 1818
Die geliefde ds M C Vos het sy emeritaat weens swak
gesondheid aanvaar en lewer sy afskeidspreek in ‘n stampvol kerkgebou. Hy doen
dit sittend omdat hy nie meer lank kan staan weens verswakte bene nie. Die
afbrand van sy pastorie met al hulle besittings op Caledon was ‘n groot
beproewing vir die leraarspaar en hulle ses kinders. Die pastorie word nie gou
herbou nie en die gesin woon by gemeentelede wat hulle met liefde behandel
sodat hierdie leraarspaar met hulle gemeentelike werk kan voortgaan. Na sy
aftrede vestig die gesin hulle in sy vorige gemeente Tulbagh waar hy vroeer ‘n
eie woning gekoop het.
LI Begrafnisse se
groot eet en drink
Kaapstad – 25 Oktober 1818
Sedert die volksplanting aan die Kaap is dit gebruiklik
dat na begrafnisse groot geeet en gedrink word, want die familiebetrekkinge en
vriende het van ver gekom en die innerlike moes versterk word voordat die
terugreis aanpak word. In die naam van boeregasvryheid is die tafels behoorlik
oorlaai en het drank vrylik gevloei. Met die dood van die Kapenaar Hendrik
Cloete het die koster 170 bottels wyn en
bier, 4 bottels jenewer, 4 bottels Franse brandewyn en die nodige tabak met 5
dosyn pype bestel vir die begrafnis. Dit was voorwaar ‘n vrolike gebeurtenis
wat die droefheid gedemp het. Daar was ook uitsonderings soos met die dood van
Lord Charles Somerset se vrou Elizabeth, met haar begrafnis is geen resepsie
aangebied nie en die draers het slegs 12 bottels rooiwyn ontvang.
LII Skotse leraars
na die Kaap
Kaapstad – 15
Julie 1822
Op versoek van lord Charles Somerset werf die bekwame dr
George Thom Skotse leraars om vakante gemeentes te beman, omdat plaaslik geen
leraars beskikbaar is nie. As lede van die Skotse Presbiteriaanse Kerk is hulle
opreg en buitengewoon vroom, getroue pastors en hartlik en warm in hulle
prediking en omgang. As manne van God versier ds Andrew Murray (Graaff-Reinet),
ds Colin Fraser (Beaufort-Wes), ds Henry Sutherland (Worcester), ds George
Morgan (Somerset-Oos) en ds Alexander Smith (Uitenhage) gemeentes in die Ned
Geref Kerk in Suid-Afrika. Die Skotse leraars handhaaf die gereformeerde leer
en kerkregering, vereenselwig hulle so intens met die Afrikaner en sy saak dat
hierdie geliefde vreemdelinge as eie aanvaar en gerespekteer word.
LIII Kaapse vyfde
gemeente
Het Swartland - 27
Junie 1745
Ds F le Sueur, leraar van Kaapstad, het vandag ‘n nuwe
gemeente in die Swartland gestig, met ds R A Weerman as eerste leraar. Die
klein gemeente bestaan uit 55 lidmate en die eerste kindjie word gedoop nadat
die leraar sy intreepreek hou oor 2 Kor 8 vers 1 tot 3.
Die lidmate wou dadelik ‘n nuwe kerkgebou oprig, maar aan die Kaap was daar ‘n
skaarste aan goeie bruikbare timmerhout. Net vyf lidmate woon naby die kerk,
ander so vêr as Groot- en Klein Paardeberg, Riebeeck-Kasteel en in die omgewing
van St. Helenabaai. Die nuwe leraar het te kenne gegee dat hy gretig is om
gereeld huisbesoek te doen.
LIV Ryk Tulbagh en
kerklike apartheid
Kasteel die Goeie Hoop – 5 September 1754
Goewerneur Ryk Tulbagh het ‘n wet ingestel om slawe aan
die Kaap te beheer, ook wat kerklike meelewing betref. Omdat slawe baie raas
tydens eredienste en begrafnisse, is hulle verbied om in die portaal van die
kerk of binne die kerk se ringmuur te kom. Met die begrafnis van ‘n slaaf of
slavin mag nie meer as tien slawe die begrafnis bywoon nie. Die wette is ook
uitgebrei na die allerdaagse lewe. As ‘n slaaf op straat moedswillig teen ‘n
blanke stamp, moet hy gestraf word. Slawe mag nie in groepe in die strate loop
nie en moet na tien uur in die aand ‘n lantern in die hand dra. Saans mag hulle
nie hard sing of fluit-fluit deur die strate loop nie, ook mag hulle nie ‘n
geweer of mes dra nie. Ryk Tulbagh was van mening dat indien die nuwe wette
streng nagekom word, almal aan die Kaap gelukkig sou leef.
LV Predikant knak
in bediening
Roodezand/Waveren
-1774
Na die emeritaat van die geliefde ds A M Meiring op
Tulbagh word hy in 1861 opgevolg deur ds R Hardens, wat bang was om in die
befaamde voetspore te volg. Dit het aanvanklik goed gegaan, ‘n nuwe pastorie is
byvoorbeeld gebou en duursame vloerteëls uit Batavia is gebruik. Maar die eise
van die bediening was vir hom te veel en na ‘n dienstyd van sewentien jaar
verlaat hy die gemeente. Ds Remmerus Harders het kranksinnig geword wat destyds
beskryf is as “een krankheijdt in de hersens”. Hy is eervol ontslaan met behoud
van salaris, waarna hy en sy vrou, Pretonella van Reede van Oudtshoorn, in
Kaapstad gaan woon tot met sy dood in 1807.
LVI Onheilskip
bring nuwe dominee
Kaap die Goeie Hoop – 28 Maart 1743
Ds A M Meiring het gister met die seilskip Adrichem in Tafelbaai
aange=
kom, na ‘n rampspoedige uit Texel in Nederland. Die skip
was geteister, aan boord was 43 dooies en 41 siekes. Op weg na die Kaap het die
vaartuig deur ‘n winterstorm en verskeie orkane getref, terwyl ‘n verwoestende
brand ook twee keer uitgebreek het. Om alles te vererger het koors onder die
passasiers gemaai, op een stadium was meer as 150 mense siek. Op die skip was
ds en mev Arnold Meiring en hulle vier kindertjies, op weg na Indië. Tydens die
tog sterf mev Meiring aan koors, terwyl die leraar met sy jong kinders alleen
voet aan wal sit in Tafelbaai. Nadat die goewerneur hom hoor preek het word hy
‘n predikantspos op Tulbagh aangebied, wat hy aanvaar en so word hy die
stamvader van die geslag Meirings wat diep spore op die kerklike werf in Suid-Afrika
trap.
LVII Swak
verplasing van leraars bring pyn
Kaapstad – 1780
Die verplasing van leraars deur die regering het net soos
in Oos –Indië ook aan die Kaap groot ontevredenheid veroorsaak. Die plaaslike
regering het deur gewetenlose amptenare groot onmin veroorsaak deur leraars
waarvan hulle nie gehou het nie te straf, hulle is na goeddunke verplaas na
plekke wat vir leraars onaangenaam was. Predikante het dit beleef as straf en
die stelsel van ‘n houvas van die staat op die kerk het groot pyn en
ontwrigting in die kerklike lewe gebring.
LVIII
Graaff-Reinet as ligbaken
Groot Karoo – 1792
In die omgewing van Graaff-Reinet is daar reeds in die
tyd meer as 600 huisgesinne wat die geborgenheid en weelde van ‘n eie gemeente
ontbeer. Daar is gevrees dat ‘n hele geslag wat aan hulleself oorgelaat is, sou
verwilder, maar hulle gehegtheid aan die Statebybel was ‘n lig op die pad, ‘n
kompas in die vreemde. In 1791 stuur die regering ds J H von Manger na die nuwe
“kolonie” wat die pad voorberei vir gemeentestigting, onder die moeilikste
omstandighede. Daar was intense spanning en opstand onder die burgers, waarby
die nuwe leraar nie kon ontsnap nie wat sy geestelike werk ernstig benadeel
het.
LIX Dominee moet
loop !
Graaff-Reinet - 1796
Aangesien ds J H von Manger blykbaar nie lief was vir
administrasie nie, het ons geen notule of kerklike dokumente van die gemeente
nie. In ‘n dokument van die staat blyk dit egter dat die leraar deur die
burgers self uit Graaff-Reinet verban is. Tydens ‘n preek op 20 Maart 1796
waarin hy die gemeente tot vrede aanspoor, het iemand hom in die rede geval
deur hard uit te roep. “Kleine Manger, ga maar aan, vandaag is het jouw beurt,
maar morgen of overmorgen zal het onze beurt zijn”. Blykbaar het hy geen moeite
gedoen met huisbesoek nie, die mense het hulle leraar ook nie vertroue
nie. (ge-pos 21/01/2003)
LX Soldate beset
kerkgebou
Graaff-Reinet – Februarie 1802
Die kerkraad besluit om by die Kaapse goeweneur beswaar
aan te teken omdat soldate die plaaslike kerkgebou as kaserne gebruik. Hulle
voel diep verontwaardig omdat die huis van die Here op die wyse onteer word,
dit is trouens afgesonder vir kerklike gebruik en aanbidding. Die kerkgebou lyk
nou meer na ‘n perdestal as na ‘n Godshuis. Skietgate versier die mure, terwyl
merke van ysters waaraan vleis gehang is, jare daarna nog aan die trappe van
die preekstoel sigbaar was.
LXI Toekenning van
sitplekke in Stellenbosse kerk
Die kerkraad van Stellenbosch besluit dat vroue lidmate
in volgorde van belangrikheid in die kerkgebou moet sit. Die volgorde van
sitplekke is soos volg: 1. Vrou van die predikant. 2. Vrou van die landdros. 3.
Vroue van oud-landdroste. 4. Regerende heemraadsvroue en die sekretaris se
vrou. 5. Oud-heemraadsvroue in volgorde. 6. Krygraadsvroue volgens die posisie
van hulle mans. 7. Vroue van kerkraadslede. 8. Vrou van die krankebesoeker,
daarna alle ander vroue streng volgens rangorde. Wanneer ‘n man te sterwe kom
verbeur sy vrou haar ere-sitplek tot sy weer indie huwelik bevestig word met
iemand anders.
LXII Ontploffing ruk kerkgebou
Swellendam – Oktober 1804
‘n Jaar na die aankoms van ds J A Schutz word die
kerkgebou deur ‘n geweldige ontploffing geruk. Die regering het ‘n ou geboutjie
wat in die kerkhof langs die kerkgebou gestaan het, onder protes van die
kerkraad gehuur en gebruik as kruithuis. Die gebou is voorheen gebruik om
materiaal te stoor met die bou van die nuwe kerkgebou. Waarvoor die kerkraad gevrees
het, word werklikheid toe die ammunisie-depot ontplof wat dood en verwoesting
agterlaat. Die kerkgebou is ernstig beskadig en word deur die regering herstel,
ongeveer 1,000 ruite word vervang.
LXII Tolgeld vir kerkgangers geskrap
Roodezand/Waveren – 4 April
1804
‘n Brief van veldkornet
Petrus van der Merwe dien voor die kerkraad op Tulbagh waarin hy vrystelling
vra vir tolgeld, dit word gehef vir elke rytuig wat die bergpas gebruik. Die
tolgeld is nodig om die pad in ‘n goeie bruikbare toestand te hou. Die versoek
raak boere wat Sondae oor die berg ry om
kerkdienste op Tulbagh by te woon.
Die saak is na die Politieke Raad in Kaapstad verwys, wat vrystelling op
Sondae aan kerkgangers gegee het.
LXIII Imposante kansel ingewy
Kaapstad – 29 November 1789
‘n Merkwaardige kunswerk in
die vorm van ‘n kansel is in die Groote Kerk ingewy, geskep deur die
meestervakman Anton Anreith en die timmerman Jan Jacob Graaf. Die pragtige
kansel is in die dienstyd van ds Helperus Ritzema van Lier uit Indiese hout
gemaak, dit rus op die rûe van twee leeus met hulle pote op ‘n boekrol, met ‘n
simboliese anker in die middel, die leeus is simbole van krag, beskerming en
oorwinning. In 1889 word die 100-jare bestaan herdenk met ‘n preek van dr J
Kotze uit Nehemia 8:5 en in 1989 met die 200-jarige herdenking deur ds J van
der Westhuysen met 2 Timoteus 4:1-4 as teksvers. Belangrike gebeurtenisse in
Suid-Afrika het voor die kansel afgespeel, tot vandag toe ‘n belangrike baken
in ons gereformeerde kerkgeskiedenis.
LXIV ‘n Kerkorde op eie bodem
Kaapstad – 1804
Die besetting van die Kaap
deur Nederland bring verandering op kerklike werf, onder leiding van J A
Uitenhage de Mist. As kommissaris-generaal handhaaf hy ‘n hoë premie op
godsdiens binne die staat, daarom vaardig hy die kerkorde uit wat uit 52
artikels bestaan. Dit het onder meer die beroeping, verplasing en vergoeding
van leraars en hulle weduwees bepaal, ook die aanstelling van nuwe
kerkraadslede. Die kerkorde het benewens sy voordele, ook baie nadele wat
spanning bring tussen kerk en staat. Skeiding het nie plaasgevind nie, eerder
‘n verknegting aan die owerheid wat nie in Koninkryksbelang was nie.
LXV Eerste kinderhuis in Suid-Afrika
Kaapstad - 1815
Op 26 September 1815 word die
eerste kinderhuis in Kaapstad deur die plaaslike leraar ds J P Serrurier
ingewy, die geboorte van “Het Zuid-Afrikaanse Weeshuis” is deur die jong
kinderlose weduwee Margaretha Anna Möller aangevuur. Na haar dood het sy die
reusebedrag van 14,000 pond nagelaat om die saak te ondersteun. Die gebou is
ontwerp deur die Franse argitek Louis Michel Thibault, tot in 1970 ‘n bekende
landmerk in die skadu van Tafelberg.
LXVI Binne ‘n kinderhuis se mure
Kaapstad – 1815 +
‘n Interkerklike direksie het
die eerste kinderhuis bestuur, drie lede van die Groote Kerk in Kaapstad en
drie lede van die Lutherse Kerk in Strandstraat. Streng strawwe soos lyfstraf
was aan die orde van die dag, ‘n pakkamer het as tronk gedien en kinders is
soms in afsondering opgesluit met brood en water as voedsel. Vir ernstige
oortredings is hulle met ‘n ketting aan ‘n blok vasgesluit. Maar in 1836 is
strafmaatreëls versag en het ernstige vermaning ‘n groter rol begin speel.
LXVII Nagmaal
‘n enorme feesgeleentheid
Cradock – 1822
Elke drie maande trek lidmate
van die uitgestrekte gemeente Cradock laer vir Nagmaal op die walle van die
Visrivier, gewoonlik is daar tussen 300 en 450 waens met honderde mense. Daar
is gesing en tot oormaat kerk gehou, alle vreugdevure brand hoog. By die
kerklike geleentheid is kinders gedoop, huwelike bevestig en lê jongmense
belydenis van geloof af. Nagmaal het ook kommersiële betekenis vir grensboere,
handelaars en smouse doen fluks besigheid. Daarom keer menige vrolike
boeregesin terug na ‘n afgesonderde plaas met ‘n geseënde hart en ‘n krakende
wa vol noodsaaklikhede.
LXVIII Jong seun ry nie perd nie maar die preekstoel
George – 22 Mei 1812
Ds T J Herold word op 22 Mei
1812 eerste leraar van die Suid-Kaap met sy bevestiging op George, net soos sy
oupa en vader is hy afgesonder vir die Evangeliebediening. Toe hy as jongeling
opgeroep word om op Stellenbosch militêre diens te verrig en hy ‘n perd met
saal en toom ontvang, is sy vader se profetiese woorde: “Wat ! paard, zalen en
toom ! Ik zal je op ‘n houtenpaard (preekstoel) laten rijden”. In die groot en
uitgestrekte gemeente George doen die
jong leraar baanbrekerswerk en bedien geestelik die veroordeelde burgers met
die Slagtersnek opstand. In 1923 word hy leraar in die Paarl en bedien vanaf
1831 tot 1857 die gemeente Stellenbosch, waar sy vader sedert 1800 tot met sy
dood in 1825 sieketrooster is.
LXIX Unieke Kanselbybel
In die stigtingsjaar van die
NG Gemeente Uitenhage strand ‘n Hollandse oorlogskip tussen die Swartkops- en
die Kougarivier. Die 217 brose skipbreukelinge is met waens na Uitenhage
vervoer waar gemeentelede barmhartigheidshulp verleen het. In 1819 skenk
kommissaris-generaal J A Uitenhage De Mist, na die wie die nuwe dorp vernoem
is, uit dankbaarheid ‘n groot Kanselbybel aan die gemeente Uitenhage. Voor in
die Bybel met leeromslag en
silwerbeslag, betuig J A de Mist self sy dankbaarheid met ‘n geskrewe boodskap.
Ds J J Kicherer is aanvanklik
‘n sendeling aan die Sakrivier in die Karoo, daarna leraar op Graaff-Reinet
werksaam is. In 1815 word die gebore Hollander leraar op Tulbagh waar hy kort
na sy aankoms met die koster D du Toit bots. Die kerkraad probeer die saak in
die reine te bring, maar die leraar wou nie kop gee nie en lê ‘n klag teen die
koster by die kerkraad. Die leraar het sy koster se optrede volgens die notule
“als een soort van opsternaatheid” beskryf en aangedring op sy bedanking as
koster. Om vrede te herstel en te bewaar het die kerkraad die leraar sy sin
gegee en is ‘n nuwe koster aangestel.
LXXI Bybelgenootskap aan die Kaap
Dit was ‘n grootse oomblik
toe die eerste sinode van die NG Kerk vanaf 2-18 November in die Groote Kerk in
Kaapstad vergader, van die 14 gemeentes was 12 verteenwoordig, die staat is
verteenwoordig deur twee politieke kommissarisse, onder meer sir John Truter.
Voor die preekstoel het twee rye tafels gestaan, aan die een kant die regering
se verteenwoordigers en aan die anderkant die moderamen. Aan 'n langer tafel
voor die preekstoel het afgevaardigdes van gemeentes gesit, in die volgorde van
die oudste tot die jongste. Ds J C Berrangè van Kaapstad is as moderator
verkies het ‘n besielende openingsrede
gehou. By die sinode is die Kaapse Kerk
saamgebind om meer onafhanklik van Nederland te funksioneer.
LXXIII Blaasorkes bring aanvanklik spanning
George – 14 Oktober 1827 en 9
Oktober 1842
Die jong en later gesette ds
J S B Ballot, self ‘n predikantseun wat die kansel letterlik kon volstaan, word
herder en leraar in die uitgestrekte gemeente George. Dit is sy eerste en
enigste gemeente wat hy vyf-en-dertig jaar lank tot met sy dood bedien. Hy
beywer hom met hart en siel vir die oprigting van die imposante en nou
geskiedkundige kerkgebou in die hartjie van George. Met die inwyding van die
kerkgebou in 1842, is daar spanning toe ds Ballot voorstel dat ‘n blaasorkes
die gemeentesang begelei, maar die kerkraad het dit afgekeur. Die leraar was
kwaad en belê weer ‘n vergadering wat toegee dat die blaasorkes nie in die
kerkgebou nie, maar in die voorportaal kan speel met kerkinwyding. Dit was so
indrukwekkend dat die blaasorkes op versoek die volgende Sondag voor die
preekstoel geplaas is.
LXXIV Kerksitplekke streel ego van stoutmoedige poue
Kaapstad – 3 November 1829
Tydens die Sinode van 1829
word besluit om spesiale sitplekke vir hooggeplaasdes in kerke uit te faseer.
Soos in die Bybelse tyd in Luk 20:46 het mense aan die Kaap graag die voorste
gestoeltes ingeneem. Die kerkraad was verplig om dit te reglimenteer, want
vroue het die koster ‘n pyn in die nek gegee. Die reisiger Peter Kolbe noem die
vroue stoutmoedige poue, want hulle het luidkeels die erediens ontwrig as hulle
nie op ’n bepaalde plek kon sit nie. Humeure het soms opgevlam, die koster moes
as vredemaker gewoonlik die onderspit delf. Die besluit van 1829 is nie oral
met vreugde ontvang en toegepas nie. In 1844 het die kerkraad van Stellenbosch
sommige sitplekke deur loting aangewys. Selfs met die bou van die huidige
Moederkerk op Stellenbosch in 1863, is besluit om sitplekke en familiebanke toe
te ken volgens jare van lidmaatskap. Tot ongeveer 1950 was daar nog gemeentes
in die NG Kerk wat kerkbanke verhuur het. Gesprekke in ons Kerk oor die voorste
gestoeltes gaan steeds voort.
LXXV Predikant J J Beck hou sy bek
Durbanville – 1834
Ds J J Beck was 52- jaar lank
predikant in Durbanville, ‘n eksentrieke mens wat gou sy humeur kon verloor,
wat iemand se kop deeglike kon was met woorde. Hy het ‘n afkeur in die bywoon
van rings- en sinodale vergaderings getoon, selfs nadat die kerklike gesag na
veel vermaning en gesprek nie kon vorder nie en hom ‘n geldboete opgelê het. Na
‘n stryd van 13 jaar het die Sinode van 1847 hom ses weke geskors sonder
salaris. Dit het die nodige uitwerking gehad, maar sy humeurigheid het
soveel probleme gebring dat die
afgevaardigdes hom gemaan het om liewer
sy mond dig toe hou. Toe hy by geleentheid ‘n ete met ‘n ringsitting nie bywoon
nie, het dr Philip Faure van Wynberg droog opgemerk: “Ja, vandag zullen wij
moet eten zonder bek !”
LXXII Kerknuus met bakens – 1824 – 1838 – 1849 – 2004.
Kaapstad – 20 Januarie 1824 -
In die hart van ds Abraham
Faure, predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, leef die droom om ‘n eie blad
vir lesers aan die Kaap te gee. Hy word beskou as ‘n baanbreker van kerklike en
letterkundige joernalistiek in Suid-Afrika. In April 1824 is die tyd ryp vir
die verskyning van die “Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansche Tijdschrift”, die
eerste algemene nuusblad in Suid-Afrika. Dit het bestaan uit nuus, preke,
artikels en gedigte. Dit dien as voorloper vir die verskyning van die eerste
Suid-Afrikaanse kerklike blad, “De Honigbij, maandschrift voor
godsdiensminnende lezers” wat in Oktober 1838 verskyn. Onder leiding van ds A
Faure is dit die poort na die verskyning van “De Gereformeerde Kerkbode” op 13
Januarie 1849, die amptelike blad van die Ned Geref Kerk wat steeds in 2004
vars kerknuus in ons harte en huise bring.
LXXIII Leraar bewerk kerkskeuring
Tulbagh (1837)
Ds Robert Shand word in 1835
leraar van die gemeente Tulbagh, ‘n vroom maar dom predikant as dit by
oordeelsvermoë en mensekennis kom. Hy vergader spoedig ‘n groep lidmate wat na
sy pype dans en sy ego streel, so doen hy dinge op sy eie wyse en word lidmate
wat van hom verskil uit die gemeente geweer. Daar is gou bitterheid tussen die
leraar en ‘n deel van die gemeente, ‘n saak wat kerklik ondersoek word en
uitloop op die dominee se skorsing. Toe ds Robert Shand ‘n meer versoenende
houding openbaar, word hy weer as leraar van Tulbagh in sy amp herstel. Maar ‘n
aansienlike groep beswaarde lidmate kom daarteen in opstand en eis dat ds Shand
die gemeente en dorp verlaat. Toe pogings tot herstel misluk, verlaat die
ontevrede lidmate die Tulbagh gemeente en stig in 1843 met 500 lidmate die NG
Gemeente Kruisvallei op Tulbagh. Eers na 92 jaar word die strydbyl begrawe toe
die gemeentes in 1935 weer verenig as NG Gemeente Tulbagh.
LXXIV Groot Trek sonder Moses en Aäron
Cradock (1837)
Met uitsondering van enkele
predikante veroordeel die Kaapse Sinode van 1837 die Groot Trek, veral omdat
trekkers “zonder eenen Mozes en Aäron de woestyn introkken, en zonder belofte
of aanwyzing thans een Canaän voor zich opzoeken”. Grensboere se situasie onder
die Britse vlag was moeilik, maar die leraars het geglo om in die woeste
wildernis te oorleef was erger. Aan die begin van 1838 veroordeel ds John
Taylor van Cradock in ‘n preek die trekkers, wat soos ‘n Jona van God wou
wegvlug. Lidmate het die leraar ernstig verkwalik, daarna was hy meer versigtig
met sy preke. Die trek van Hendrik Potgieter het hom telkens genooi om hulle
leraar te word, maar hy weier elke keer. Later neem sy kollegas hom kwalik toe
hy die “uitgewekenen” op die trekpad besoek, later doop hy gereeld kinders
“Over de Grenzen”, by geleentheid meer as 39 kinders in die vreemde.
LXXV Sarel Cilliers bid vir sy perde
Kroonstad – (1838 - 1848 - 1862)
In die geskiedenis van die N
G Kerk staan Sarel Cilliers uit as ‘n vroom en godvresende ouderling, sy
kinderlike geloof en oorgawe oorheers sy menswees. Hy beklee onafgebroke die
amp as ouderling, hy was trots op wat vir hom ‘n ere-titel was, daarom skryf
baie keer agter sy naam “ouderling” of “oud-ouderling”. Die Bybel was sy
enigste leerboek, ‘n genoegsame wegwyser onder alle omstandighede. Hy het die
groot “Staten-Bijbel” met sy aantekeninge vyf maal deurgelees, sy briewe en
geskrifte wemel van Bybeltaal- en beelde. Op 15 Junie 1864 is hy op Smithfield
met die opstel van kerkwette, daar bid hy ernstig vir sy perde wat hom moet
terugneem na Kroonstad. Toe iemand hom vra hoekom hy vir sy diere bid, het hy
ook ‘n teksverwysing vir die geleentheid: “De regtvaardige kent het leven
zijner beesten, maar de barmhartigheden der goddeloozen zijn wreed” (Spreuken
12:10)”
LXXVI Kerkgebou met klippe bestook
Kaapstad – (1838 - 1843 –
1857)
Op 1 Desember 1838 word die
slawe aan die Kaap vry, hulle geestelike vryheid word bevestig met die stigting
van ‘n eie gemeente. Dit word St Stephans genoem, ter ere aan Stefanus die
eerste Christenmartelaar, want as vrygemaakte slawe voel hulle dit aan eie lyf.
Die vyandelike Kapenaars bestook die aanbiddingsplek met klippe en gooi venters
stukkend, uit woede want hulle het die teater en slawe verloor. Die NG Kerk aan
die Kaap maak geskiedenis, ‘n ou volksteater of komediehuis sedert 1801 waar
wêreldse jolyt gevier is, word omskep in ‘n kerkgebou vir vrygemaakte slawe. Op
30 April 1843 word die “nuwe slawekerk” ingewy, ‘n visie van ds G W Stegman wat
op 15 November 1857 die Nederduitse Gereformeerde Gemeente St Stephans word,
wat vandag nog bestaan. ‘n Teater word ‘n kerkgebou, plek van aanbidding,
vergiffenis, bevryding en genesing. Vandag nog in die hart van die Moederstad
‘n bewys van wat die Here doen, want St Stephans is ‘n hoopvolle baken.
LXXVII Polisieman help dominee met astrante doopouer
Swellendam (16 September
1834)
Die bekende dr William
Robertson trap diep spore in die Kaapse Kerk,
‘n herder en leraar wat 38- jaar lank die gemeente Swellendam bedien.
Buitekerke word gestig wat later sewe gemeentes word, een daarvan Robertson dra
sy naam. As eertydse onderwyser van Graaff-Reinet glo hy in deeglike kategese,
met sy streng-ordelike leefwyse en kragtige persoonlikheid is hy ‘n
leiersfiguur in die NG Kerk. In 1834 plaas hy ‘n ouerpaar van Swellendam onder
kerklike tug, daarom word die doopgeleentheid van hulle kindjie uitgestel. Die
astrante vader aanvaar dit nie en gaan staan met die volgende doopdiens rustig
met ander ouers voor die kansel. Hiermee wil hy die leraar dwing om sy kind te
doop, hy weier om te gaan dit en wil ‘n argument voor die kansel begin.
Noodgedwonge vra ds Robertson ‘n polisieman om die moeilike man uit die
kerkgebou te verwyder, tot groot ontstigting van die gemeente. ‘n Hofsaak word
teen die leraar gemaak, die klaer getuig: “Wat moeten wij ongelukkige Afrikanen
tog niet lijden ! Nu beginnen de Schotten ons al uit onze eigene Kerk te
jagen”. Na baie praat en bid word die
saak opgeklaar.
LXXVIII Woelinge in die jong Colesberg
Colesberg (1829 – 1837 –
1844)
Die Kerkraad besluit op 16
September 1829 om die gemeente en dorp se naam te verander van
Torenberg/Toverberg na Colesberg, ‘n vesoek wat die Kaapse goewerneur sir Lowry
Cole goedkeur. ‘n Jaar later word die hoeksteen van die nuwe kerkgebou gelê, ‘n
pastorie gebou en erwe verkoop aan mense wat op die dorp wil kom woon. Op die
voorjaar van die Groot Trek word ds Thomas Read in 1835 die eerste vaste
leraar, iemand wat gekant is teen die “De Evangelische Gezangen” van 1814, maar
dit bring groot stryd en verdeeldheid in die gemeente wat byna twee dekades
duur en tot die bedanking van ds Read in 1854 lei. Woelinge bedaar nie, ‘n
groot aantal anti-gesange groep stig ‘n eie “Gereformeerde Gemeente” op
Colesberg wat deel is van die Gereformeerde Kerk wat in 1859 gestig word. Buite
die dorp boer Piet Potgieter wat op 18 Janaurie 1844 weier om meer as ses
riksdaalders vir sy meel en koring te neem, al kry sy mede-boere al veertig
riksdaalders vir hulle meel. Hierdie boer glo dat hy nie geregtig is op hoër
vergoeding of onregmatige wins nie, want die kleiner vergoeding dek sy werk- en
bedryfskoste. In hierdie voorpos gemeente aan die To(ren)- To(ver)berg is daar
veel om oor te skryf, ‘n plek wat as besondere ligbaken dien.
LXXIX Nagmalsveiling
Uitenhage (1830)
In die veertigjarige dienstyd
van ds Alexander Smith is die Nagmaal jaarliks gedurende Januarie, April
(Paassondag), Julie en Desember (Kersdag) bedien. Hy bedien die Nagmaal op
Paassondag 1824 aan die Hollandssprekende deel van die gemeente, ‘n week later
word hy waarskynlik die eerste leraar van die N G Kerk wat die sakrament van
die Nagmaal in die Engelse taal bedien. Uitenhage maak weer geskiedenis, die
eerste Sondagskool het ook sy oorsprong op die dorp langs die Swartkopsrivier.
Gewoonlik is veeveilings ook met Nagmaalsnaweke gehou, hieroor maak diaken J A
Landman in die kerkraad beswaar dat dit “op de voorbereiding voor het Heilige
Avondmaal” gebeur. Hy is die ouer broer van die bekende Voortrekkerleier, Karel
Pieter Landman. Die kerkraad besluit in Oktober 1830 om die siviele kommissaris
en magistraat te vra om die veeveilings stop te sit. Terselfdertyd word gevra
dat die kantore moet sluit “op de voorbereidings en dankzegging dagen voor en
na het Heilige Nachtmaal”. Die antwoord is kort en kragtig, nie “zonder een
order van den Goewerneur”, die siviele kommissaris laat ook weet daar bestaan
geen wet om sulke veilings te verbied nie. Die kerkraad moet berus met die
gebruiklike veeveilings tydens Nagmaalstye, ook sorg dra dat die skare mense
geestelike gevoed, versterk en getroos huis toe gaan.
LXXX Kerkorrel luisteryk ingewy
Kaapstad (11 Julie 1830)
Die plegtige inwyding van die
nuwe orrel in die kerkgebou van die Groote Kerk in Kaapstad is ‘n groot
geleentheid, die lys eregaste by die geleentheid is indrukwekkend. Die
kerkgebou was stampvol en mense wat nie ‘n sitplek kon kry nie het gestaan. In
sy preek het ds Abraham Faure uit die Bybel aangetoon dat musiek by
godsdienstige plegtighede noodsaaklik is, ook dat die orrel die mees geskikste
instrument daarvoor is. Hierna is ‘n erediens in Engels deur eerw George Hough
waargeneem, ook met ds J H von Manger se aanddiens was die kerkgebou vol
feesgangers
In die kerkhistoriese
geskiedenis van die gemeente Groote Kerk het vier orrels die gemeentesang begelei.
Die Hoets-orrel van 1830 was die derde orrel, die eerste kerkorrel in
Suid-Afrika is reeds in 1737 in gebruik geneem, daaraan is veranderings oor die
jare gedoen en het 127 jaar diens gedoen. Op 1 Desember 1957 is die huidige
orrel met sy vier manuale, 74 registers en 5 426 pype ingewy, die grootste
kerkorrel in Suid-Afrika wat na omvattende restourasiewerk in 2002 opnuut
feestelik ingewy is. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is diep dankbaar en
trotse dat hierdie musikale erfstuk as deel van die historiese Groote Kerk in
Kaapstad vir die nageslag bewaar word.
LXXXI Predikant verdwyn sak en pak uit dorp
Dordrecht (April 1862)
Op 10 Augustus 1861 begin ds
Carel Trappes Scholtz sy bediening, ‘n jong gewilde en minsame leraar in die
Stormberg. Maar hy verdwyn soos mis voor die son terwyl die gemeente tydens die
April Nagmaalsnaweek tervergeefs in die kerkgebou vir hulle leraar sit en wag.
Toe hy na ‘n tyd nie opdaag nie het die koster en kerkraadslede hulle na die
pastorie gehaas en vind toe dat die gebou leeg is. Ds C T Scholtz het die
vorige nag sak en pak uit Dordecht getrek, sonder om enige persoon in die dorp
in kennis te stel. Hulle is terug na die kerkgebou, waar alles gereed was vir
die nagmaalsviering. Die brood, wyn en gemeente het nie ontbreek nie, wel die
leraar om die genade-tekens uit te deel.
Hoe die leraar dit reggekry het om ongesiens te verdwyn, is nie duidelik
nie en die saak was lank die hoofdis van bespreking op hierdie dorpie in die
Stomberge. Die eerste wat die kerkraad van die leraar hoor, is sy
bedankingsbrief. Dordrecht se kerkraad was baie simpatiek oor sy skrywe en
demissie is aan hom toegestaan. Kort hierna in 1863 word hy op ‘n omstrede wyse
beroep as leraar van die N G Gemeente Napier, waar hy tot in 1889 diens doen
toe hy weens ‘n geestesversteuring die bediening verlaat. Hierna leef hy nog 24
jaar lank as pasient in ‘n spesiale hospitaal in Kaapstad tot met sy dood op 9
Oktober 1913.
LXXXII Predikant met sambok geslaan
(Utrecht – 12 Augustus 1868)
Ds Frans Lion Cachet was ‘n
vurige predikant wat alles in die stryd gewerp het om die saak van die Ned
Geref Kerk te bevorder. In die tyd was daar groot kerklike verkeurdheid in die
Transvaal, ‘n saak wat hom dikwels in botsing gebring het met die Ned Hervormde
Kerk. Hy het nie vir die duiwel gestuit nie, daar is baie verhale in omloop oor
sy doen en late op die kerklike akker. Op ‘n keer bevind hy hom in die distrik
van Groot Marico, waar komdt. Jan Viljoen, bekende grootwildjagter en leier in
die Ned Hervormde Kerk, hom verbied om besoeke te doen en te preek. Die gort
was gaar en die humeure tussen die twee kerkmanne was kort - ds Jan Lion Cachet
was onversetlik en wou nie gehoor gee om die gebied te verlaat nie. Toe niemand
op sy bevel as kommadant die osse van die leraar se wa wou doodskiet nie, neem
die die ouderling in ‘n oomblik van blinde woede self die voortou. Hy storm met
sy perd op ds Jan Lion Cachet af en gee hom ‘n pak slae met sy sambok. In
daardie dae was predikante kroonwild, daarom word die daad met die
seekoeisambok met afgryse bejeen en kry die leraar simpatie en ondersteuning
van onverwagte kante. Later kom versoening, ‘n Ned Geref Gemeente op Groot
Marico word gestig en later met die inwyding van die kerkgebou is kommandant
Jan Viljoen self ook teenwoordig. Die sambok het hard gepraat, maar niks kon
die vestiging van die Ned Geref Kerk in Transvaal stuit nie.
LXXXIII Spanspek of skorsies?
Glen-Lynden (1835)
Die Skotse leraar ds
Alexander Welsh kom na Suid-Afrika en word deur die staat as leraar op Glen
Lynden aan die Baviaansrivier naby die huidige Bedford geplaas. Met moeite leer
hy by die Afrikaner aanpas en verkonder met ywer en volharding die Evangelie
aan die boere en word ‘n geliefde leraar wat die gemeente meer as twintig jaar
lank bedien. By geleentheid is hy met huisbesoek by C F van der Nest op die
plaas Bosfontein, waar hy ‘n heerlike spanspek eet. Met sy vertrek word soos
die gewoonte destyds was, die leraar se rytuig gevul met lekkernye en groente.
Toe die leraar weer sy weldoener sien bedank hy hom vir die groente maar vra
hoekom die spanspek wat hy met die groente gekry hety so hard was dat hulle dit
byna nie kon eet nie. Die leraar verneem toe dat dit nie spanspekke was nie
maar skorsies wat hy ontvang het.
LXXXIV Joodse gebed
Burgersdorp (±1869)
Jan Lion Cachet, later
predikant en professor in die Gereformeerde Kerk, is die jonger broer van ds
Frans Lion Cachet, baanbreker leraar in die pionierstyd in Transvaal. Jan Lion
Cachet kon hom nie vereenselwig met die liberale kerkstryd waarin die N G Kerk
verkeer nie, bedank en word later ‘n bekende teoloog in die Gereformeerde Kerk.
Albei broers is die seuns van gekerstende Amsterdamse Joodse ouers, in
Suid-Afrika speel die broers ‘n groot rol in die kerklike lewe. Hulle het hulle
kinders geleer dat die Jode nie sleg kan wees nie, want die Messias is uit
hulle gebore. Jan-Lion Cachet gee aan drie van sy kinders Joodse name.
Grapperig-ernstig het hy dikwels vir sy kinders die gebedjie opgesê wat hy as
Joodse kindjie geleer het. “Ek dank U, God van Vader Abraham, Isak en Jakob,
dat U my nie as ‘n meisie laat gebore word het nie”. In sy jong dae moes hy en
sy ouderling met ‘n perdekar deur ‘n vol rivier ry. In die middel van die
rivier raak hulle in die moeilikheid. ‘Dominee, dis nou tyd om te bid’ roep die
ouderling benoud. ‘Nee, broeder, dis nie vir my tyd om te bid nie, maar vir jou
om die perde te slaan’, was sy praktiese antwoord”.
LXXXV Dame beledig
Cradock (1859)
Die bejaarde ds John Taylor,
sedert 1824 tot met sy dood in 1860 herder en leraar in die voorpos gemeente
Cradock, beleef in 1858 die koms van ‘n eerste orrel wat groot vreugde maar ook
beroering in die gemeentelike lewe bring. Dit sou sy plek voor die galery
regoor die kansel inneem, ‘n sterk en welluidende instrument wat deur Frederick
Barr van Grahamstad uit Engeland ingevoer is. Coenraad Strasheim, onderwyser
aan die Hollandse Kerkskool word die eerste orrelis, maar na klagtes
word hy afgedank, omdat hy “niet behoorlyk naar de Nooten of Zang Toon” speel
nie. Toe ds Taylor se dogter Nancy die orrel daarna bespeel, is dit eens te
veel vir sekere gemeentelede net ‘n veel. ‘n Versoekskrif van ongeveer
sewentien gemeentelede kla dat ‘n “dame” die orrel speel, dit is nie ‘n plek
vir ‘n vrou nie. Hieroor is verdeeldheid in die kerkraad, die bejaarde ds
Taylor word bygekom in die plaaslike pers. ‘n Eietydse gelykenis vertel van die
ou herder wat saam met sy tien dom bokke oor die lot van ‘n Hollandse os moes
beslis. Die os is kort tevore deur die herder die skaapkraal ingebring, maar
toe hy die geraas nie langer kon verduur nie, stoot die bokke hom uit. Nou word die Hollandse os vervang met ‘n
rooibont vers van Engelse ras -. Die “rooibont vers” wys na die leraar se
dogter – sy tree jare lank sonder vergoeding op as orrelis in die eerste
kerkgebou op Cradock.